"Litanie van die Lyf" deur LINA SPIES [boodskap #21411] |
Sun, 28 February 1999 00:00 |
G.B.
Boodskappe: 2173 Geregistreer: May 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
LITANIE VAN DIE LYF
Lina Spies
(Oorstaanson, 1982)
As mens klein is, hou jy van jouself -
gewoon en vanselfsprekend,
want vat en gryp, loop en hardloop
is arms en hande, bene en voete
en speletjies brand in wange rooi en sag soos "Early
Dawn"-perskes
al is vir dogtertjies die son skaars toegelaat.
Soms het ek in die spieël
met die vae, half-bewuste vreugde van 'n kind
die hele dag in daardie gloed herken:
die mos afgetrek van drupperige klip in
skaduplekke,
die paddavissievangs in die skerp son,
Oupa se bestrawwing oor die vergete kappie,
sy dreigement oor sonstraal -
en snags was dit in my
met die slag van die staanklok, die roep
van die hadida:
die hele wonder van 'n kind se vakansieplaas.
'n Kind is pure lyf en puur geluk
totdat hy homself ontdek
want 'n spieël is vir meer as spieëling
van jou wange:
om in te kyk, is dit daar, in jou eie klein
verborgenheid,
in te voel met versigtige, opgewonde
vingers
totdat jy die vreemde ekstase skielik raak
en skrik... skrik vir die grootmenswoede
En nou is jy doodsbang vir jouself, jou
hande -
hulle kan nog skaduprente oproep voor
slapenstyd:
teen die wit muur laat jy hul kom en gaan,
maar uit die donker verskyn hul later
buite jou wil en hande:
die bul, die hond, die wolf...die ou kapater...
"Pappa kom môre terug van die dam,
ry op sy vet ou kapater,
as hy dan hoor dat jy soet was, my lam,
hoe sal jou pappie dan skater."
Jy sal jou vuiste teen hul bal,
hul beskreeu uit jou liggaam - die
skroeiende hel
die huis geluik en geslote vir 'n vrou,
die treurige plaas, onbewoon, vreemd,
verlate...
tot iemand dit eendag opkoop uit liefde
en jy jou ledemaat vir ledemaat terugvind:
'n meisie wat vuursteentjies kaalkop
optel in die son.
|
|
|